Fred Gaum 16 Junie 1976

Tony Koopman

Alumni Memory | 16 June 1976 | Written by Anthony Koopman

A personal reflection on how the events of 16 June 1976 reached Fred Gaum Secondary School in Ceres, and how learners responded in their own way.

Vir die Gaumers het hierdie dag soos alle skooldae doodnormaal begin. Ons het nie die opbou tot 16 Junie ervaar soos by veral die skole wat nie in hul moedertaal onderrig ontvang het nie, maar in Afrikaans. By feitlik alle Township skole het teenkanting teen Afrikaans as taal van onderrig uitgeloop in die gewelddadige betogings wat op daardie dag begin het. Daarom is dit verstaanbaar dat ons eers die aand van 16 Junie met die eerste nuus bulletins, die nuus gehoor het van die honderde kinders wat óf gesterf het óf beseer was na botsings met die polisie. Boonop was dit nog eensydige nuus verklarings van die regering.

Dit het ons nie gekeer om die volgende dag by die skool murmererend te praat oor die kinders, nes ons, wat voor die voet deur die polisie afgemaai was of met sambokke en stokke ongenadiglik geslaan was. Ek was daardie jaar in die St 9C -klas. Die klas vir die kinders wat nie slim genoeg was om Wiskunde, Natuur Wetenskap en of Rekeningkunde te doen nie. Dis óns wat die eerste pouse van 17 Junie 1976 besluit het om uit solidariteit met ons mede-leerders van Soweto en ander Townships nie verder klasse by te woon nie. Die matrikulante het hulle by ons aangesluit. Van die onderwysers het snuf in die neus gekry dat iets aan die broei was. Ons ontevrede groep leerders het agter die toilette vergader; vasbeslote om ook te boikot teen die onreg wat teen ons gepleeg word deur die Apartheid regering. Die lus om te boikot het by sommige gou in die lug verdamp toe onderwysers met hul rottangs ons dreigend beveel het om na ons klasse toe te gaan. Brom-brom het van ons geweier, maar moes toe druipstert bes gee veral toe die matrikulante al reeds in die rigting van die klasse beweeg.

Tweede pouse was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Ons het in een groot groep saam gedrom en op ons manier ʼn vryheidslied of twee begin sing. Nodeloos om te sê dat die manhaftige onderwysers wat ons ewe braaf die eerste pouse met hul rottangs uitmekaar gejaag het, was gerieflikheidshalwe nie sigbaar nie. Alle klasse was ontwrig en die skool was vir die res van die dag gesluit.

Toe die volgende dag… steeds geen klasse nie. Van die leerders het by hul huise gebly. Die meerderheid wat by die skool opgedaag het, het geen skool uniforms aangehad nie. “Ons boikot dan” was die algemene rede daarvoor. Weer het ons in een groot groep op die skool terrein rondgeloop. Die onderwysers het die storie so vanaf ‘n afstand dop gehou. Iemand het jare later gesê dat daar gelukkig geen brandstigting by die skool was nie. Min was hulle bewus daar wel ‘n brand begin was by die biologie klas van alle plekke waar baie ontvlambare middels in was. Gelukkig het die brandsteker (s) betyds tot hul sinne gekom en is die vuur deur hulle self geblus met geen ernstige gevolge.

Ons bydra tot die 16 Junie was egter van korte duur. Teen die derde dag van ons skoolboikot poging het die waarnemende skoolhoof en sy onderwysers “orde” by die skool herstel deur dreigemente en die onafwendbare inroep van die onluste polisie. Ook ouers het gehelp en hul kinders met klappe en skoppe tot by die skool gejaag. Tot op hede weet ek nie wie wel die onluste polisie laat kom het nie, maar hulle was daar. (Gerugte wou hê dat die Veiligheidspolisie van daardie tyd spioene ook in Ceres gehad het.)

Die hoof het ons almal op die teerblad laat saamkom. Daar het hy ons goed die leviete voorgelees. Maar hy het benadruk  dat hy geen ander optrede van ons eintlik verwag het nie. As skool kan ons nie onaangeraak gelaat word deur die gebeure by ander skole in ons land. In sy woorde: 

“Die bergreeks rondom Ceres is nie daar om die dorp af te sny van die wêreld daar buite. Daar sal invloede oor die berg en deur die passe die dorp binnekom en ook so sal ons eendag die dorp deur daardie einste bergreeks moet verlaat.” 

Met daardie woorde het ons skoolboikot terstond tot ‘n einde gekom. “Orde” is verder met die rotting herstel toe die belhamels “ses van die bestes” gekry het. Veral die leiers van Touwsrivier het erg deurgeloop. Boonop het omtrent die helfte van ons groep in 1976, St. 9 gedruip, ek was deel van hulle. Ons kan tereg met trots sê dat ook ons ons beskeie bydra tot politieke verandering gelewer het.

Die onluste polisie het vir weke in die dorp agtergebly deur staatsgeboue te beskerm. Hulle het selfs n praatjie by die skool kom hou oor ‘n loopbaan in die weermag. Natuurlik was ons wie meer radikaal in ons denke begin word het, baie teleurgestel toe ons die stampvol klaskamer waarin die praatjie gehou was, sien. Ons uitgangspunt was nie onderhandelbaar… geen weermag opleiding in ‘n abnormale samelewing waar daar tot vyf verskillende weermagte was en waar diskriminasie en onder- drukking nog erg was.

Anthony Koopman

Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *