Alumni Memory | 16 June 1976 | Written by Keith Ford
Dit was op ‘n Woensdag aand, kort voor twaalf toe ek arresteer word….ek kon darem daarin slaag om betyds my broek aangetrek te kry voordat die “Security Police (SP)” my agter in die vangwa geboender het….anders was ek dalk kaalgat op pad Worcester toe!
Ek onthou ek was die bliksem in…Eerstens vir myself – want ek het geweet die SP was op my spoor en die klopjag was dus te wagte..…maar ek het nietemin die aand besluit om by die huis te slaap. Tweedens – vir my broer Lindsay wat, nog half deur die slaap, my getaway gameplan opgefoeter het.
Die SP het my naam gehad maar was onseker tussen my en Lindsay wie die regte persoon was en het aanmekaar gevra “Watter een van julle is Keith?” … Lindsay, nog half deur die slaap , het by die venster uitgekyk en gesien die huis was omsingel. Dis toe dat Lindsay afsak: ”My vrek Keith – hier is dan ‘n hele army om jou te kom haal!” Game over! Maar laat ek so bietjie konteks gee…
Ek het skool verlaat die derde dag van Std 9 in 1976 en ek dink dit het ‘n rol gespeel in my optrede terug op skool in 1980. Nou mag van julle dalk vra: Hoe het dit ‘n rol gespeel en vir watsegeid het ek skool gelos? Wel, ek was maar ‘n redelike sensitiewe outjie en as ek gedink het mense beledig my, het ek baie maklik hardegat getrek. So het dit dan op die derde dag van Std 9 in 1976 gebeur dat Mr. Basil Davids, in my destydse jeugdige hardegat opinie, die spesifieke dag my eer gekrenk het.
Mister B, soos ons hom genoem het, was ons Bios-meester daai tyd. Hy het meestal roomkleurige safari-suits gedra en ‘n rooi mini gery- en hy het so ‘n bietjie van karate geken en soos sommige onderwysers destyds, ook nie omgegee om ietwat venynig te raak nie. Mr. B het die dag in die klaskamer so ry vir ry , bank vir bank, sy mening gedeel oor wie kwansuis die volgende jaar (1977) matriek sal deurkom en wie, volgens hom, hul tyd (en ook sy kosbare tyd) op skool kom mors. Ek was in die laasgenoemde groep, die tyd-morsers.
Ek het Mr. B stip in die oë gekyk…en ‘n besluit geneem om my rugsak te pak en aan te stoot. Kom ons sê maar net ek was nie bereid om Mr. B se kosbare tyd te mors nie… Dit was dit….kant en klaar met skool en ewe skielik ‘n groot meneer…
Ek het die kortstondige “Groot Vryheid” van ‘n salaris verdien en jou eie ding te doen, aanvanklik geniet. Dit was great om nie elke keer hoef te koes en te duck as Beertjie, Busch en Johnny Goliath by die Dreyersaal opdaag nie. Aan die annerkant was die lewe van ‘n werkende outjie ook nie maklik nie.
Om sakkies aartappels op ‘n lorrie te laai, te smous, handlanger op gebou te wees vir ‘n skrynwerker en in die koue winter-oggende bibberend agter op ‘n oop lorrie te sit op pad Hamlet toe, was nou ook nie my idee van lewe geniet nie.
Twee jaar van grootmens wees voor die tyd was meer as genoeg vir my en ek is 1979 terug skool toe. My ou standerd 9 klasmaats van 1976 was daai tyd al op UWK of Kollege, so ek was dus ietwat meer volwasse as die meerderheid van my nuwe Standard 9 klasmaats toe ek in 1979 terugkeer. Moet by noem dat ek nie die oudste in Standard 9 was nie en daar was so ‘n paar ander ouens! Ek het darem ook ‘n ou vriend gehad wat braaf genoeg was en saam met my die stryd aangepak het terug skool toe…wyle Donald Jacobs.
Ons twee het elke dag saam die paadjie van Naude straat af oor “Die Step” aangepak, ons “toppertjie” gerook en agterna met Dentyne kougom, Musk of SenSen lekkers die rook asem verdoesel. As dit nie kon anders nie het ons sommer Peppermint Drops uit die medisynekas gegaps en dit ook gebruik. Standerd 9 was ‘n moeilike jaar vir my, maar ek was vasberade om nie my tweede geleentheid op skool op te foeter nie, so ek het gefokus op my studies en kon die vrugte van my harde werk met elke toets en eksamen mildelik pluk.
Matriek 1980 tydens die oplewing van die Skoleboikot, was ‘n interessante tyd. Alhoewel my studies belangrik was, was ek polities redelik gefrustreerd en boonop intens bewus van die politieke uitdagings in die land …ek was nie bereid om net my kop in die grond te druk nie. Ek het, net soos baie ander, ook besluit om aktief betrokke te raak en om ‘n rol te speel. Wat aanvanklik begin het met klein groepies leerlinge bymekaar kry tydens pouse het vinnig gegroei tot groter groepsbesprekings en later intensiewe politieke mobilisering op die skoolterrein.
Ons doel was eenvoudig: Kry die skool en ons gemeenskap betrokke en laat Ceres ook betrokke raak. Baie leerlinge het onbaatsugtig hiermee gehelp, sommige was meer braaf as ander en meer uitgesproke en binne ‘n week kon ons daarin slaag om leerlinge te oortuig om klasse te boikot. Daarna het dinge vinnig verloop en was daar te min ure in die dag vir die paar van ons om by alles uit te kom…Mense besef dit dalk nie maar ons moes alles haarfyn en in detail beplan. Ander se insette moes ingewerk word, aksieplanne en protes-programme moes ten minste ‘n week vooruit in plek wees en ons kon niks aan die toeval oorlaat nie. Ons moes presteer, mense vertrou en die boikot aan die gang hou terwyl ons ook moes waak dat ons nie verraai word.
Ons het vinnig toegang tot verteenwoordiging by die studente politieke vergaderings in die Worcester ,Paarl en later Athlone gekry. Die Weskaap 1980 Skole- Boikot was vanaf Athlone koördineer. Om daarby betrokke te wees en tuis aan die spits van aktiwiteite op skool te bly, was uitmergelend en jou lont het korter gebrand by die dag.
Gepaardgaande met Regional Representation was natuurlik boonop die verspreiding van politieke pamflette wat ons moes optel by die vergaderings en uitkry in omliggende Bolandse dorpe. Tussen ons en Worcester was die meeste van die pamflet-verspreidings hanteer. Vervoer en petrolgeld was aanvanklik ‘n konstante probleem en ek onthou hoe baie van ons skoolspan geheime kollektes by die skool opgeneem het sodat ons vergaderings kan bywoon.
Hele aantal onderwysers was ook betrokke en het ons ondersteun, finansiële bydraes gemaak maar hulle moes dit maar in die geheim doen want piempers was daar beslis. As ek vandag terug dink daaraan, haal ek my hoed af vir meeste van ons oud onnies vir hul hulp. Baie het gehelp maar twee van hulle het egter moewiese risikos gevat en ek moet erkenning gee aan Clifford Nasson en wyle Archie Reitz…daai manne se karre het baie politieke pamflette vervoer! En al sou die SP ook wat doen- ons sou nooit hul verraai nie.
So, sonder om nou te veel te verklap of jul te verveel met my ou storie, het dit dan gebeur dat ek op die spesifieke Woensdag aand voor twaalf opgetel word. Wyle Llewellyn van der Merwe en sy ouer broer Terrence van der Merwe, asook Cedric Doyle en sy neef Allan Pharo, was reeds by Ceres Polisiestasie toe ek daar opdaag.
Ek het dadelik geweet dat die inligting van die SP swak was, want Terrence en Allan was nie deel van die kerngroep nie. Llewellyn en Cedric was beslis deel van die kerngroep wat gehelp het om die momentum by die skool aan die gang te kry so ek was glad nie juis verbaas dat hulle opgetel was nie.
Ek kan wel onthou dat ek op geleentheid ook Terrence se motor (so ‘n smart 1976 Rooi Datsun 160U SSS) gebruik het om pamflette te gaan optel in Athlone, maar arme Terrence was werklik onnodig geskep. Allan Pharo het saam met Cedric Doyle ‘n kamer gedeel en van die pamflette was onder Allan se bed gekry en daarom was hy arresteer. Ek was eintlik baie verlig dat die arrestasies beperk was tot net die paar van ons want baie ander het gehelp. Hoe minder die SP van ons kon vastrek, hoe kleiner was die kanse dat iemand sou breek en inligting met hul deel.
Ons was voor dagbreek agter in vangwaens gelaai en oorgeplaas na Worcester Polisiestasie waar ons onder in die verhoor afwagtendes se selle by die Landdroshof/Polisiestasie geplaas was. Natuurlik enkelselle en redelik ver uitmekaar, met ‘n hele aantal traliehekke in die gang wat elke keer oopgesluit moes word. Ons mag nie met mekaar kommunikeer het nie, maar in die nagtelike ure kon ons darem fluisterend boodskappe na die ou naaste aan jou sel oordra en sodoende kon jy alles uitvind van mekaar.
Wyle Johnny Issel het ons geweldig inspireer. Johnny Issel was in die sel naaste aan die deur. Ons kon nie mekaar sien nie, maar het presies geweet wie was in watter sel. Daar was darem een ligstraaltjie so af en toe – die Suid Afrikaanse Polise se Hofordonnans, was ook ‘n oud skoolmaat van Ceres, Eugene Oncker (destyds van Stukkiewit Gevangenis) en hy het gehelp waar hy kon.
Dinge was maar rof daar binne. Die SP ouens was geneig om jou in die middernagtelike ure te kom haal vir ondervraging. Jy het nooit geweet vir wie hul kom haal het as hulle die hekke in die gang begin oopsluit het nie. Johnny Issel kon hul eerste hoor en het altyd onmiddelik begin sing. Die vryheidslied “We shall overcome” kry nuwe betekenis as politieke gevangenis dit in die nag uit volle bors sing terwyl hul hoor hoe sleutels die traliehekke oopsluit. Jy sing sommer ekstra hard as die SP eers verby jou sel beweeg na die ander ou se sel…maar jy weet jou dreunsang inspireer jou mede politieke gevangene.
Die ondervragings tegnieke van die Sekuriteits Polisie is welbekend en ja, van ons was grof behandel. Sleep Deprivation en Waterdoop was hul gunsteling. Daaroor kan ek baie uitbrei, maar dis vir ander dag. Beide Terrence en Allan is ‘n paar dae later gelos en ‘n week later is Llewellyn ook vrygelaat. Cedric was nie so gelukkig nie en moes nog so paar dae uithou. Gelukkig kom alles in die lewe tot ‘n einde en 14 dae later was hierdie episode iets van die verlede.
My rol in hierdie gebeure op ons skool gedurende Matriek 1980 was eintlik bitter klein….erkenning moet liefs gegee word aan my medeleerlinge en ook die onderwysers wat dit alles moontlik gemaak het sodat ons skool ook ‘n klein bydrae kon maak om dinge in hierdie land te verander.
Dankie vir elkeen van julle wat deel was daarvan. Julle vorm deel van ons geskiedenis.
Ek sluit af met die welbekende gedig van Chris van Wyk oor die leuens van die Sekuriteits Polisie van John Vorster Square :
In Detention by Chris van Wyk
“He fell from the ninth floor
He hanged himself
He slipped on a piece of soap while
washing
He fell from the ninth floor
He hanged himself while washing
He fell from the ninth floor
He hung from the ninth floor
He slipped on the ninth floor while
washing
He fell from a piece of soap while
slipping
He hung from the ninth floor
He washed from the ninth floor while
slipping
He hung from a piece of soap while
washing”

Leave a Reply